top of page

Visie en waardes

Laerskool De Tyger is ‘n openbare Afrikaans medium skool wat sy ontstaan op 19 Januarie 1965 as die Laerskool Avondale met mnr. F.L. Knoetze as eerste skoolhoof het. Omdat die naam Avondale te Engels geklink het vir ‘n Afri­kaans­ medium skool, is op die naam De Tyger besluit nadat ‘n kompe­tisie uitgeskryf is. Die naam is afgelei van die Neder­landse “Tijger­berg” wat na bewering teen 1700 deur Kommissaris Valchenier aan die koppie bokant die skool toege­ken is, nie omdat daar baie “tygers” was nie, maar vanweë die donkergroen kolle wat veroorsaak is deur fynbos wat op plekke weliger gegroei het as elders. Op 5 Maart 1966 is die Laerskool De Tyger amptelik ingewy met ‘n tuinparty voor die skool en ‘n inwydingsrede gelewer deur mnr. F.D. Conradie (LUK).

Nadat mnr. Knoetze (later dr. Knoetze) die skool aan die einde van 1969 verlaat het, is hy as skoolhoof opgevolg deur:

  • Mnr. A.P. van Niekerk (1970 ‑ 1974)

  • Mnr. P.M.J. Smit (1975 ‑ 1991)

  • Mnr. D. Triegaardt (1992 – 2006)

  • Mnr F.G. du Toit (2007 – 2016)

  • Mnr W. Smit (2017 –

Tans bied die skool onderrig aan leerders vanaf graad RR tot graad 7. Ons is een van die voederskole vir die Hoërskool Tygerberg wat oorkant die straat geleë is.

Missie:

By die Laerskool De Tyger verbind ons as personeel ons daartoe om die kind:

  • As individu psigies, fisies en gees­te­lik in sy tota­liteit te ontwikkel

  • Deur die oordrag van kennis en voor­beeld te lei tot self­stan­dig­heid en ewewig­tig­heid om sodoende doel­gerig en kreatief te wees

  • As individu en unieke wese te lei tot sosiale aanpas­baar­heid en ‘n persoon met hoë morele, gods­dienstige en kulturele waardes

  • As individu te respekteer en aan sy selfbeeld te bou so­dat hy kan groei tot ‘n vol­wassene wat sy plek as ‘n gebalan­seerde en verantwoordelike burger in die same­lewing sal kan volstaan.

ONS SKOOLWAPEN EN LEUSE

ONTWERPER: Mnr. Walther, tipograaf van Nasionale Boekdrukkery.

BETEKENIS: Die boompie wat deur die seun en meisie geplant word, is simbolies van die kind wat sy skoolloopbaan begin en intellektueel, emosioneel, kultureel en geestelik/godsdienstig versorg en gevoed moet word om te groei tot volwassenheid.

DIE LEUSE: “Waak en Werk” verwys na Nehemia 4:6‑21 waar Israel die mure van Jerusalem herbou het met “die troffel in die een hand en die spies in die ander”.  So word daar daagliks gewerk aan die bou van sterk karakters terwyl gewaak word teen alles wat afbrekend van aard is.

DIE SKOOLLIED

1) Na die noorde van ou Tafelberg, in die mooi Tygervallei
Staan ‘n skool met die leuse WAAK EN WERK waar ons kinders trots op bly.
Fondamente stewig word gelê en kennis uitgebou.
Aan die hoogste ideale, aan ons land en volk getrou.

2) LAERSKOOL DE TYGER ons sal hoog jou vaandel dra.
Fier en sterk sal ons WAAK EN WERK en steeds doen wat jy ons vra.
Op die sportveld sal ons openbaar ‘n ware sportmangees.
Oor heel ons land tot die verste strand sal DE TYGER geroem kan wees.

STREWE

Om vir ons leerders in hulle vormingsjare ‘n stewige grond­slag te gee sodat hulle kan groei tot verantwoordelike en gebalan­seerde lede van die gemeenskap.
Om professionele onderrig met ‘n gesonde balans tussen geeste­like, akademiese, kulturele en sport bedrywighede aan ons leerders te voorsien.
Om Christelike waardes te handhaaf en ruimte te skep vir die uit­le­wing daarvan.
Om saam met ons ouergemeenskap toe te sien dat ons leerders na vermoë presteer en dat DE TYGER sy voortreflikheid as Afrikaanse laerskool dinamies handhaaf.

Laerskool

De Tyger

  • Facebook
  • Twitter
  • Instagram

© Kopiereg 2024 Laerskool De Tyger. Ontwerp deur: Ian Oliver 

Kontakbesonderhede

Tel: 021 930 2829 / 021 930 2833

Epos: info@detyger.co.za

Straatadres:

Glenboigstraat

Parow

bottom of page